![]() 84711 |
Sagte Hande
Die winter voe’ë in jou hande kom lê ’n papawer op my lyk en bring stroopsoet gedagtes van swerwer-jare stomp afgesluit en jou hande balsem kruie waar jou vingers aan my raak en my kaarthuis stort in duie en los my skaam en naak
en jou hande word die blaaie van ’n baie ou verhaal waar konings met goue septers met juwele die tyd betaal en jy lees vir my die storie en sus my aan die slaap en lei my deur donker stegies en deur die strate van die Kaap
gee my sagte hande in die winter om die koue weg te hou
en sagte hande in die somer wat aan blou lugtralies klou in die lente brand ons kerse in skemer-kamers vol gesang maar die herfs bring ou komberse en die heim’wee van verlang
en my oë word twee glaskoepels wat wasig na jou kyk en ek dink aan donker vure en die voue in jou buik en jou hande tap die olie wat ruik na paradys en jy trek jou vingers deur my hare en stadig word ons grys
gee my sagte hande in die winter om my heupe vas te hou
en sagte hande in die somer soepel en getrou in die lente lees ons verse in tuine vol geluk in die herfs verdwyn die kerse soos die donker ons verstik
en my lyf word oud en stram en kom orent nie meer en ek dink aan helder bane en hoe baie ons verleer en jou hande sweef soos vlinders oor die woestyn op my lyf en my gedagtes word soos kinders wat met glimlagte vir jou wuif
gee my sagte hande in die winter om die storms weg te hou
en sagte hande in die somer sonder hartseer sonder rou in die lente vertel ons sprokies vir die kinders wat wil hoor In die herfs vang ons blare met sagte hande weer van voor
|
|||||||||||||||||||||||